Karlien van Jaarsveld

Borge & Vriende
 

Jongste Nuus

Nuusbrief Nr 1, 2014

07-02-2014

Hallo julle!!!

Ok…… hier gaan ek weer, my 5de probleemslag om te begin skryf aan 'n nuusbrief vir julle…. Tweeling grootmaak wys mens hoe tyd vlieg... (o ja, voor jy verder lees. Ek skryf soos ek dink en my kommas en punte en hoofletters is nie altyd in plek nie maar dis maar hoe ek skryf!)

Hello julle!!! Die mees amazingste ding naas Verlossing het met my gebeur op 19 Desember 2013!!! 2 pragtige baba seuntjies is vir my geleen om groot te maak in God se wil. Nog nooit het ek so baie gehuil, gelag, in verwondering gewees, min geslaap, liefgehê of so baie van God gesien nie. Ek kan nie dink dat ek ooit 'n lewe sonder Eliah en Daniel al gehad het nie. 'n Lewe met baie meer slaap, selfsugtig wees, dink jy verstaan wat is liefde, oppak en net ry, tv kyk soos dit jou pas, uiteet as jy so voel, en 'n fliek gaan sien. Daai is nou in die verlede en as ek kan kies sal ek dit elke dag vir die res van lewe weer kies. Hulle is afhanklik, so broos, so perfek, so onskuldig, so klein, en daar begin ek iets verstaan van hoe God my regtig sien, hoe lief Hy my regtig het, en dan is dit nog nie eers naastenby soveel nie, onvoorwaardelike liefde… Liefde wat jou sal laat voel soos die rykste mens wat al geleef het en liefde wat jou bitter seer kan maak. Nog nooit was ek so oop, sonder 'n bulletproof vest, sonder hoë mure, op my brooste. My hart lê elke dag in my arms en bekyk my met splinternuwe oë, dieper en verder in my wese as wat ek al ooit kon sien. Vat aan my met handjies so klein maar met so stewige greep wat my laat weet hierdie is hoe weerloosheid en onskuld voel en lyk. En ek besef vir die eerste keer dis God. God wat sê moet die kinders nie verhinder nie bring hulle na my toe, want aan hulle behoort die koningkryk. Ek wag nogsteeds om my seuns op die mond te kan soen, omdat hulle so klein is moet ons heeltyd ons hande was voor ons aan hulle vat en daai oopmond soene is eers veilig van 40 weke af wanneer babas eintlik gebore word en hulle immuun stelsels biki sterker is… Ek dink dis hoe erg dit vir God moet wees om te wag vir sy kinders om na Hom toe te kom. Hy wag oop arms vir die 40 weke, daai ontmoeting, daai soen op Sy mond wat jou as Syne verklaar, dis 'n afwagting wat jy al oor gedroom het lank voor hulle geboorte, en God lank voor die grondlegging van die wêreld. Dis 'n smag na vervuld wees, woorde sal dit nie kan beskryf nie en verstand sal dit nie verstaan nie., maar wag sal jy wag, soos God wag vir jou want niks sal ooit daai oomblik kan oortref nie. Ma wees laat my iets van God sien en verstaan wat ek nooit van tevore het nie, ek bid dit vir elke vrou wat God weet Hy kan vertrou met Sy geliefde seuns en dogters. Tyd is kosbaar. Ek bid elke dag dat God my sal wys hoe Hy Eliah en Daniel wil grootmaak dat hulle in hulle roepings op aarde sal loop en God hulle skuiling sal wees.

'n Ander ding… die hele storie oor oom Solly op die Huisgenoot voorblaaie het my hartseer laat voel, so dat ek nie daai Huisgenote kon oopmaak en lees nie. Ek het die Here gevra wat aangaan, hoekom? Wat my hartseer maak is dat soveel mense wat na hom opkyk saam hom val, omdat hulle dink dat hy nou tot 'n val gekom het omdat hulle nie met erns by die Here gaan hoor oor wat aangaan nie, en net begin saampraat en oordeel. Ons mag nie oordeel nie. Oordeel kom so maklik. Maar in die maat waarmee ek en jy oordeel sal God ook oor ons oordeel. En die waarheid is dat hy nie tot 'n val kom nie, maar dat ander mense wel doen. Die Here wil die mensdom leer van mense aanhang, pastore aanhang, soos wat mense in die ou bedeling Moses aangehang het, terwyl daai bedeling verby is, Jesus het gekom om te verlos, om die mens aan God vas te maak en nie aan mense nie. Dis hoekom Jesus nooit op aarde mense wou 'please' nie. Hy wou mense leer dat jy self by God hoor, dat jy nie moet wag om op 'n Sondag eers God te hoor praat nie. Dat jy self elke dag Sy stem kan hoor, dat die Heilige Gees jou alles en meer kan leer, waarvoor jy wag om op 'n Sondag by een mens hoor. Ons moet opstaan, ons is die bruid en Jesus die hoof, ons is die liggaam van Christus, en die liggaam kan nie sonder AL sy lede reg funksioneer nie. So kom ons los die ander mense wat iewers dalk al geval het, God is besig met elkeen op Sy manier. Bly gefokus op watse posissie ons in die liggaam van Christus moet vervul. Die mens sal jou altyd teleurstel, God nie. Hou in gedagte dat oom Solly ook 'n mens is, wat foute gemaak het. Foute wat dalk aan die lig moes kom soos God se, laat die lig dit kan bestraf en dat daar genesing kan kom. God wil nie he ons moet idols maak van mense en dan wanneer hulle dalk val of ons iets oor hulle verlede uitvind hulle moet oordeel en vertrap nie, dis nie God se hart nie, maar dat ons sal bid vir hulle, soos hulle vir ons bid.

Intussen begin ek biki liedjies skryf en dink aan hoe my eerste show in Junie gaan lyk vir die jaar vorentoe… Ek sien baie uit om julle almal weer by die shows te sien! Dankie vir julle liefde en ondersteuning en dat julle vir my en my gesin bid. Die waarde van julle gebede en liefde kan nie gemeet word nie. Dankie, ek lief julle.

Moet nou weer gaan bottels regkry… Praat weer..

Karlien xxx